Cornelius van Til (2003: 97) raak in sy bespreking van apologetiek onder andere ’n belangrike aspek aan rondom die kontakpunte tussen twee individue wat met mekaar in gesprek tree. Aan die eenkant is daar die ateïs wat vanuit ’n subjektiewe menslike perspektief redeneer. Hierdie perspektief se uitgangspunt is dat die subjektiewe individu vooropgestel word en as bepalende faktor outonomies te werk gaan met die doel om subjektiewe bewussynswording en die daarmee gepaardgaande bewussynsstrominge as deterministies voor te hou.
Die ateïs is vanweë sy verabsolutering van die subjektiewe uitgelewer aan ’n pertinente selfbewustheid. Daarteenoor verkeer die Christelike apologeet in volle oorgawe aan die Drie-Enige God. Hiervolgens beweeg die Christen weg van die self en stel God as die Bron van absolute determinisme ten opsigte van logika, etiek, moraliteit ensomeer. Van Til (2003: 89) maak ’n belangrike punt wanneer hy daarop wys dat die Christelike geloof altyd in sy hoogste vorm gedefinieer moet word en nie in sy laagste vorm nie.
Indien die Christelike geloof in sy laagste vorm gedefinieer word, doen dit afbreek aan die geloof en is daar ’n risiko dat die individu gevolglik ook vir God spreekwoordelik opsy wil skuif en die self as subjektiewe individu verabsoluteer tot primêre punt van kennis. Gevolglik bestaan daar dan die gevaar dat die individu verval in ’n vae teïsme en nie ’n suiwer Christelike Reformatoriese uitgangspunt nie. ’n Afgewaterde vorm van teïsme kan ook daartoe lei dat die individu (on)bewustelik beroep tot Rooms-Katolieke doktrine en sodoende dan in mistisisme verval. Van Til (2003: 93) beklemtoon hierdie gevaar veral na aanleiding van die invloed wat Aristoteles op Rooms-Katolieke doktrines gehad het.
Te danke aan Aristoteles voer Katolieke doktrine aan dat die mens van die begin af ’n gevalle kant gehad het wat deur God die Vader aan die mens gegee is. Hierdie standpunt is uiters gevaarlik juis omdat dit afbreek doen aan die handewerk van die Skepper en ook omdat dit neig om ’n wanpersepsie van God se almagtigheid en absoluteit tot gevolg te hê. Gevolglik kan God dan beskou word as ’n misterieuse Wese wat ’n element van obskuriteit in sy ontologiese Wese huisves.
Wanneer laasgenoemde aanname van obskuriteit van nader bekyk word, moet ’n mens geensins verbaas wees dat mistisisme en die verafgoding van beelde prominente rolle in die Katolieke Kerk vertolk nie. Die mistisisme word gekoppel aan Maria en gevolglik word sy vergoddellik – ’n idee wat deurtrek is met paganistiese beskouing, nie Christelike beskouing nie. Gevolglik dien die verafgoding van die Pous as verdere beklemtoning van, en verdieping in hierdie mistieke element. Veral na aanleiding van die feit dat daar subtiel aangevoer word dat die Pous ’n direkte goddelike element in sy menswees huisves wat hom tot goddellike verklaar. Ironies genoeg kom die ateïsme se begrip van outonomiteit by die spreekwoordelike agterdeur ingeglip en word die Pous sodoende as outonome wese geïdentifiseer. Wat afbeeldediens betref is die heilige ontsag wat daar gekoppel word aan beelde, baie problematies om die minste te sê.
Die Gereformeerde apologetiese metode is bevrydend. Dit is bevrydend in twee opsigte: eerstens omdat dit God as Absolute vooropstel en tweedens omdat dit nie die individu se aandag en fokus aftrek deur te fokus op sogenaamde heiliges, beelde, mistisisme en vae teïsme soos die Katolieke doktrine nie. Nee, die individu wat die Gereformeerde apologetiese metode toepas se fokuspunt is suiwer op die verheerliking van God Drie-Enig. Die proses van verheerliking vloei voort vanuit die wyse waarop die individu tydens ’n debat getuig van die almagtigheid van God Drie-Enig as die Absolute.
Die vertroostende element speel ook ’n prominente rol in die Gereformeerde apologetiese metodiek, aangesien die Christen nie soos die ateïs uitgelewer is aan immanente problematiek van selfbewustheid nie. Die immanente problematiek van die ateïs se selfbewustheid kom na vore in terme van eksistensiële vrae rondom die self – wie is ek? Voor, tydens en na afloop van die Tweede Wêreldoorlog het ateïstiese eksistensialiste soos onder andere Albert Camus en Jean-Paul Sartre volumes geskryf oor hierdie kwellende vraag en kon hulle nooit werklik tot ’n bevredigende oplossing kom nie. Al wat telkens hulle gevolgtrekkings was, is dat die mens bloot uitgelewer is aan absurditeit en dat vryheid te veel verantwoordelikheid op die subjektiewe bewussyn lê. Sartre (2008: 3) het selfs sover gegaan om aan te voer dat die mens eintlik net werklik vry is wanneer hy verdruk word. Dit was teen die agtergrond van die verdrukking van veral Frankryk deur die destydse Nazi-Duitsland wat Sartre tot hierdie gevolgtrekking gekom het.
Die Christen het nie hierdie probleem nie, aangesien die vraag wie is ek? nie vir die Christen ’n struikelblok is nie, maar eerder deel uitmaak van die bevrydende karakter van sy identiteit in Christus. Soos Paulus immers in Romeine 8: 37 skryf: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” (1983-vertaling).
Die ateïs se innerlike worsteling met die vraag wie is ek? is een van die primêre faktore wat sy subjektiewe verstaan van die self negeer en gevolglik as gefragmenteerde subjek laat manifesteer. Omdat die ateïs nie verder as individuele subjektiwiteit kan redeneer nie, kontamineer hy enige vorm van progressie tydens debatvoering.
Dit wat die ateïs as progressie beskou, is dus niks anders as regressie nie.
---------------------------------------------------------------------------------------------------
BRONNE:
Sartre, J.P. 2008. The Aftermath of War. Londen: Seagull Books.
Van Til, C. 2003. Christian Apologetics. New Jersey: P&R Publishing.