Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: "Jesus Christus is Here!" tot eer van God die Vader.(Filippense 2: 5-11) (1983-vertaling).
As gelowiges het ons ’n groot verantwoordelikheid aangesien Paulus sê dat ons dieselfde gesindheid moet hê as Jesus Christus. Dit is vir ons as mense baie moeilik – ons raak soms moedeloos, uitgeput en laat soms toe dat slegte omstandighede ons geloof laat wankel. Dit is juis waarom God die Vader en Jesus Christus ons deur die kragtige werking van die Heilige Gees bystaan en ons sodoende versterk. Ons moet elke oomblik fokus op die wete dat ons nie alleen is nie, ongeag hoe donker dit rondom ons mag wees.
Dit is opvallend dat Paulus opmerk dat Jesus nie aan sy goddellike gestalte vasgehou het nie , maar Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. Wat Jesus betref, wys dit hoe onbegryplik groot sy liefde vir ons is. Wat onsself betref, is die idee om die gestalte van ’n slaaf aan te neem ’n beklemtoning van om altyd nederig te wees. Om hierdie gestalte aan te neem beteken nie dat ons ander mense se vloerlappe moet wees nie. Dit beteken wel dat ons ingestel moet wees om in liefde en nederigheid te handel en wandel. Tydens Jesus se bediening op aarde is dit opvallend dat hy telkemale met die Fariseërs en Sadduseërs gebots het, juis omdat hulle vol hoogmoed was. Jesus se nederigheid was vir hulle iets afgryslik. Hierdie afkeur wat hulle aan sy nedergiehd gehad het is ’n bewys van die mensdom se gevalle natuur. Ons almal was al skuldig daaraan: ons kan so maklik in hoogmoed verval en dink dat ons prestasies iets is wat ons beter as ander maak. Maar voor God het niemand iets om op te roem nie. Sonder Jesus sou ons in die ewige verderf beland het en sou ons nooit die heerlikheid van sy volmaakte liefde, nederigheid, geduld en goedheid kan ervaar nie.
Dit is opvallend hoe die konsepte van bo en onder in verse 9 tot 11 beklemtoon word. Jesus was verneder – Hy was onder tussen ons en het pyn verduur tydens die kruisiging en tog het God Hom die Naam gegee wat bo elke naam is. Hy was onder tussen ons en het met sy kruisdood nog verder na onder neergedaal deur na die onderaardse dieptes te gaan waar Hy die dood oorwin het. Terselfdertyd het God vir Jesus tot die hoogste eer verhef. Hy was dus so ver onder dat dit ons menslike begrip van wat onder is, verby gegaan het – Hy het na die doderyk (onderaardse dieptes) gegaan wat in 'n geestelike dimensie is. Daarna gaan Hy weer verby ons menslike begrip van wat bo is en word Hy in die hemel ’n ereplek gegee aan sy Vader se regterhand. Jesus Christus was dus ten volle onder en bo. Hy het dus volle vernedering en volle verheerliking ervaar.
Dit is verder treffend dat almal in die hemel, op aarde en onder die aarde die knie buig en erken “Jesus Christus is Here!”. Weereens die begrippe van bo en onder – oraloor word Hy erken as die Here, die Koning van die konings. Van die aarde af tot in die geesteswêreld. Dit is juis waarom demone vlug wanneer Jesus se Naam aangeroep word.
Wat apologetiek betref, wys Fil 2: 5-11 onder andere vir ons hoe absurd die ateïs se posisie is en hoe hy alreeds die debat verloor het nog voordat hy dit betree. Die ateïs wandel nie in die nederigheid en liefde van Jesus nie. Hy probeer deur middel van sy outonomiteit hierdie beginsels negeer en hou die humanisme voor as iets wat kamtig al die antwoorde het.
Sy gesingheid is heeltemal verkeerd. Dit handel vir hom oor sy ego. Op grond hiervan is die vernedering wat Jesus moes deurmaak iets wat die ateïs as “dwaas” beskou. Hy wil nie die Naam van Jesus wat bo alle name verhewe is, erken nie. Hy wil hierdie Naam eerder ydellik gebruik asof dit maar net nog ’n woord is.
Die ateïs veg nie tydens debatvoering eintlik teen die gelowige nie. Hy veg teen homself. Hy verkeer verder onder die wanpersepsie dat hy teen God veg. Hiermee skeur hy homself net nog verder aan flarde, want God hoef niks aan enige iemand te bewys nie. Verder weerspreek die ateïs homself ook wanneer hy teen God veg, want hy is immers van uitgangspunt dat daar geen God is nie. As daar geen God is nie, waarom veg hy dan so teen God?
Die ateïs verklaar homself dus onbewustelik tot ’n totale dwaas. Diep in sy hart weet hy dat God bestaan, maar hy ontken Hom. Die ateïs wil nie verantwoordelik wees nie. Hy wil nie toevertrou word met die evangelie nie. Hy wil eerder verantwoordelikheid systap deur sy siel te verdoem. Die ateïs is sy eie grootste vyand en gaan, ironies genoeg, ook met die wederkoms kniel en tot die skokbesef kom dat God Drie-Enig almagtig is.