Konstantheid is ’n voorvereiste vir verandering – hierdie belangrike feit wat deur Strauss (2009: 490) beklemtoon word, is ’n maatstaf waarvolgens die Darwinisme en Neo-Darwinisme in die kern van hul wese tot niksseggend verklaar word. Dawkins en sy kollegas van die Neo-ateïsme beweging het, soos Strauss (2009: 489-490) tereg aandui, ’n obsessie met die konsep van verandering. As ’n mens terugkyk na hulle primêre invloed, Darwin, is dit duidelik dat Darwin die veranderlikheidsbeginsel oorbeklemtoon en dit in sy wese vergoddellik.
Volgens hierdie “logika” van Darwinisme en Neo-Darwinisme, moet die biologiese aspek dan as ’n deterministiese faktor dien waaraan alle ander aspekte van realiteit onderwerp word. Wanneer daar gelet word op die feit dat Dawkins tydig en ontydig homself met dieperliggende etiese en morele vraagstukke in terme van realiteit en die algemene menslike bestaan bemoei, moet ’n mens tereg (retories) vra: hoe kan ’n biologiese aspek dien as deterministiese faktor ten opsigte van etiese, juridiese en geloofsaspekte?
’n Mens kan in laasgenoemde verband byvoorbeeld op iets let soos ’n misdaadtoneel en die daaropvolgende forensiese en geregtelike ondersoeke. Wanneer ’n misdaadtoneel waar ’n lyk gevind is deur polisiebeamptes besoek word, word hulle teenwoordigheid as geregsdienaars op die toneel nie geantisipeer deur ’n algemene aanname dat daar toevallig biologiese en bio-chemiese materiaal op ’n toneel gevind is wat toevallig gepaardgaan met menslike weefsel en bloed nie. Indien dit die geval sou wees, sou daar geen etiese, morele en juridiese aspekte wees wat as deterministiese faktore vanuit ’n geloofsoortuiging plaasvind nie. Die geloofsoortuiging spruit in hierdie verband nie net vanuit ’n religieuse oogpunt in terme van dogmatiese geloofstelsels nie, maar selfs vanuit iets klein soos die beheerkamer het my in kennis gestel dat daar ‘n moord aangemeld is deur ’n inbeller – ek glo dat as ek daar aankom, ek sekere algemene aanduidings sal aantref dat daar ’n moord gepleeg is. Wanneer die moord bevestig word deur beamptes wat op die toneel arriveer, hanteer hulle dit nie as ’n moordondersoek op grond van ’n potensiële versameling van biologiese materiaal wat toevallig met ’n ander versameling van biologiese materiaal gebots het en gevolglik toevallig gelei het daartoe dat die slagoffer as blote biologiese materiaal op die grond neergeval het en die straat toevallig met biologiese materiaal soos onder andere bloed bemors het nie.
Die ondersoek word juis geloods vanuit die etiese en morele oortuigings dat ’n onreg plaasgevind het en dat daar nou onder andere op die juridiese aspek vertrou word om leidrade op te volg en uiteindelik ’n arrestasie te maak. Terloops, die blote feit dat daar geloof en vertroue in die juridiese stelsel is, dui op ’n beklemtoning van die geloofsaspek wat deur die Nederlandse filosoof, Herman Dooyeweerd, as die hoogste bepalende aspek beklemtoon is. Die daaropvolgende nadoodse ondersoek op die slagoffer, dui aan dat die slagoffer byvoorbeeld herhaaldelik met ’n skerp voorwerp gesteek is. Die forensiese patoloog redeneer nie hier is toevallig vyf meswonde wat toevallig op die bors ontwikkel het en toevallig daartoe gelei het dat die persoon gesterf het as gevolg van toevallige psigologiese skok, weefsel-trauma en uitermatige bloedverlies.
Die persoon wat aanvanklik die polisie se noodlyn in kennis gestel het van die moord, het nie geredeneer daar is toevallig biologiese materiaal wat die straat toevallig bemors en ’n slagoffer as versamelde biologiese struktuur wat toevallig op die grond lê nie. Nee, die persoon is eerstens in ’n toestand van skok en verbasing omdat hy of sy die lyk waarop hulle afgekom het as ’n mens identifiseer wat op ’n onregmatige wyse gesterf het. Die kern hier is: ’n mens. Die slagoffer is ’n mens. ’n Individu. Nie ’n spul dooie materiaal wat eendag toevallig uit ’n primaat ontwikkel het en nou maar net oorgelewer is aan toeval nie.
Indien die evolusieteorie van Darwin en die Neo-Darwiniste enige waarheid bevat het (veral in terme van menslike ontwikkeling en bestaan), sou daar geen logiese rede bestaan het waarom die moordtoneel ondersoek moet word nie. Indien evolusie enige waarheid bevat, beteken dit dat alles in die heelal maar bloot uitgelewer is aan veranderlikheid wat geensins voorafgegaan word deur konstantheid as deterministiese faktor nie. Gevolglik sou daar ook geen etiese, morele, juridiese en sensitief-psigiese aspekte bestaan het wat as deterministiese faktore dien om ’n ondersoek te loods en te sorg dat geregtigheid seëvier nie. Dan sou die moord aanvanklik in elk geval nie as ’n moord beskou word nie, want dit is maar toevallig dat daar ’n persoon in die vorm van versamelde biologiese materiaal lê wat later, volgens die Darwinisme se beheptheid met veranderlikheid, in elk geval vir geen logiese rede tot ’n ander biologiese kreatuur (’n voël of ’n soogdier of iets anders) gaan ontwikkel.
Carl Sagan se aanname dat die mens blote sterstof is wat op een of ander toevallige wyse tot ’n intelligente individu met komplekse DNA-strukture ontwikkel het, is ook net so hoogs onwaarskynlik en lagwekkend soos die evolusieteorie van Darwin en al sy volgelinge. ’n Christelike apologeet van Kanada, Sye Ten Bruggencate, is sekerlik een van die mees gehate apologete op sosiale media. Bruggencate vereenselwig hom met die Calvinisme en struktureer konstant sy apologetiek op die basis van gereformeerde apologetiek. Indien ’n ongelowige persoon (gewoonlik een van Dawkins se bewonderaars) vir Bruggencate in ’n debat konfronteer en beweer dat evolusieteorie die alfa en omega van alles is, loods Bruggencate ’n sterk argument daarteen deur die ateïs daarop te wys dat indien die mens uit ’n primaat of uit sterstof ontwikkel het, daar dan geen etiese en morele gronde is waarop etiese en morele beginsels gefundeer kan word nie. Bruggencate wys dan daarop dat die immanente karakter van etiese en morele beginsels terugverwys na die Bybel en die Drie-Enige God as Skepper van hemel en aarde.
Bruggencate se gereformeerde apologetiek is, soos die apologetiek van Cornelius van Til en andere, ’n sterk standvastige stelsel wat daarop dui dat alles in Genesis begin het. Die Boek van Genesis dien as ’n fundamentele geskrif om die skepping te verstaan en te begryp hoe God alles deur middel van intelligente ontwerp gevorm en gestruktureer het.
Die rede waarom Bruggencate so verskriklik verafsku word en sy apologetiese metodiek as “dom” afgemaak word, spruit nie vanuit die feit dat die ateïste dit verkeerd kan bewys nie. Hulle kritiek teen, en ad hominem-aanvalle op Bruggencate spruit eerder vanuit die feit dat hulle diep in hulle wese wéét dat die gereformeerde apologetiek ’n logosentriese sleutelkonstruk bevat wat nie verkeerd bewys of op enige wyse genegeer kan word nie.
Die kern van die saak is: die immanente karaktereienskap van niks, is niks. Die evolusieteorie maak die lagwekkende aanname dat alles uit niks ontwikkel het. Gevolglik kan ’n mens dan die retoriese vraag vra: Wat sou dan in elk geval die doel van etiese, morele en ander waardes en aspekte wees en hoe sou dit in die eerste plek ontstaan het?
---------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Bron: Strauss, DFM. 2009. Philosophy: Discipline of the Disciplines. Grand Rapids: Paideia Press.
Die volgende het ek al baie ervaar met presup. Awesome gestel!
Baie dankie, Arne.
@Tertius Fourie as jy post kan jy probeer om bietjie meer die teks te format met spasies dat dit makliker leesbaar is in die toekoms? Goeie artikel! Dankie vir die deel.
Ja, ek sal so maak. Sal nou gou by "edit post" gaan en dit aanpas.
Ek het dit nou aangepas met spasies tussen paragrawe. Dit lyk nou beter en ek glo dit lees ook makliker.
@Tertius Fourie Awesome!