[Afrikaans] Psalm 118

00:00 / 02:44

Verse 1

Loof, loof die HEER met lofgesange! O Israel, wees in God verblyd. Sy goedheid volg Hom in sy gange, sy goedheid duur in ewigheid. Loof, Aärons huis, met jubelsange! Gods goedheid ken geen grens of tyd, geen hede, toekoms of vergange, sy goedheid duur in ewigheid!

Verse 2

Loof, loof die God van ons verlange, o almal wat die HERE vrees! Sing voor die HEER jul lofgesange, en laat Gods volk nou vrolik wees! Loof almal saam met jubelsange! Gods goedheid ken geen grens of tyd, geen hede, toekoms of vergange, sy goedheid duur in ewigheid!

Verse 3

Toe ek, omring van alle sye, die vyand rondom my sien staan, het God my stem gehoor uit lye, en my weer veilig uit laat gaan. Ek sal nie langer hulp'loos wees nie, of wanhoop selfs in doodsgevaar: ek sal die mens nie langer vrees nie, wat magt'loos is as God bewaar.

Verse 4

Die HEER, die Hoof van duisendtalle, sal in die stryd my hulp verskaf. Dan kyk my oog met welgevalle op my verwoede haters af. Dis beter by gebed en wense dat ons vertrou op God se mag, as dat ons ooit vertrou op mense, of selfs van prinse hulp verwag.

Verse 5

Toe al die heid'ne my omring het, hul laers om my opgeslaan, en hulle aan my opgedring het, het ek hul in Gods Naam weerstaan. Ja, toe die volke my omring het, met leërs teen my opgestaan, toe hul my tot die dood bespring het, het ek hul in Gods Naam verslaan.

Verse 6

Hul het my wel omswerm soos bye, maar het soos doringvuur vergaan; hul het gekom in breë rye, maar 'k het hul in Gods Naam verslaan. O vyand, met jou harde stote soek jy my val, my ongeluk; die HEER bewaar sy gunsgenote, die HEER het self my uitgeruk.

Verse 7

Dit is die HEER wat my gesterk het. Hy is my lied, my psalmgesang; Hy was dit wat my heil bewerk het, dus loof ek Hom my lewe lang. Ek hoor alom die blye galme van vromes ná die lydensnag; hul tent weerklink van dankb're psalme: Gods regterhand doen grote krag.

Verse 8

Gods regterhand is hoog verhewe, sy regterhand is groot van daad; dit laat van skrik die wêreld bewe, maar red sy volk uit leed en smaad. Ek sal nie kwyn in slawebande wat tot die dood toe my omknel; ek sal nie sterf deur vyandshande, maar al Gods werke bly vertel.

Verse 9

Die HEER het my met sware slae getugtig, maar nie tot die dood; Hy't my gehoor in donker dae en my gered uit alle nood. Ontsluit dan voor my pelgrimskrede die poort van sy geregtigheid, om God te loof wat my gebede verhoor het in die dag van stryd.

Verse 10

Dit is die poort van Israels HERE, wat voor sy huis as wagter staan; die poort vertel van heil en ere, waardeur sy gunsvolk in mag gaan. Daar sal ek, HEER, met dankgebede U groot maak op die dag van fees, want U was in my angsverlede vir my tot hulp en heil gewees.

Verse 11

Die steen wat deur die tempelbouers verag is en 'n plek ontsê, is voor die oog van die beskouers deur God as hoeksteen neergelê. Dié werk van God se alvermoë het deur God self geskied, deur wie die wonder oprys voor ons oë; ons sien dit, maar deurgrond dit nie.

Verse 12

Dit is die dag deur God verkore, die feesdag aan Hom toegewy. Laat ons, met psalms uit vreug gebore, ons in die God van heil verbly. Ag, HEER, gee nou u seëninge; gee voorspoed, HEER, op hierdie dag – dit is die dag van grote dinge, die glorieteken van u mag.

Verse 13

Geseënd is die grote Koning wat aankom in die HEER se Naam; geseënd uit die HEER se woning is volk en Koning altesaam. Die HEER, die God van ons vertroue, Hy kom ons met sy ligglans teen; bind dan die offerdier met toue en lei dit na die altaar heen.

Verse 14

U is my God, ál my verlange; U prys ek om u majesteit. My God, U loof my lofgesange van nou af tot in ewigheid. Loof almal saam met jubelsange! Gods goedheid ken geen grens of tyd; geen hede, toekoms of vergange, sy goedheid duur in ewigheid!

© 2022 by Apologetics Central.

Thanks for submitting!

We'd love to hear from you.

We love and care about people, and we'd love to hear from you. If you require a speaker at an event or camp, we'd jump at any opportunity to talk about what we love: Apologetics and the Gospel. Fill in the form to book us, or simply reach out if you have suggestions.

  • Twitter
  • Facebook
  • Youtube
  • Instagram